
=====================================================================
Privaatgesprek (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Privaatgesprek

---------------------------------------------------------------------
Annesu de Vos, wat op die webwerf LitNet in 'n ope brief uit Kanada heftig geantwoord het op Chris Louw se Boetman-brief aan Willem de 
Klerk, reageer met dislojale verset op 'n vraag oor haar verhouding met Afrikaans n soveel jaar uit die land. Sy s sy skok tong in die 
kies, "sodat ons vir onsself kan lag. Lag is nodig."

AFRIKAANS vervul in my lewe 'n uiters belangrike rol. Ek noem dit my "sekerheidstaal". Ek het naamlik een baie goeie vriend, 'n 
Engelssprekende Suid-Afrikaner wat goed genoeg Afrikaans praat om 'n taamlik diepsinnige gesprek te kan volhou in 'n stampvol bus, trem of 
moltrein.

As ek dus enigsins oor iets persoonliks wil praat in 'n openbare voertuig, of ongeskikte aanmerkings wil maak oor hierdie een se hoed of 
daardie een se pienk hare, of die feit dat die busbestuurder maar 'n taamlike knortor blyk te wees, dan praat ek net Afrikaans.

Mens moet natuurlik onthou om liewer van die persoon se rooskleurige dos te praat as van pienk hare, want anders werk dit nie. Die 
onderwerp van die gesprek sal dadelik alles kan verstaan as mens nie mooi versigtig jou woorde weeg nie, want Afrikaans is mos soms so 
uiters lastig soortgelyk aan Engels. Dis juis di dat ek sulke suiwer Afrikaans praat! Daar is nie 'n Engelse woord in sig nie.

Om hierdie sekuriteitsrede vermy ek die absolute meerderheid van Afrikaanssprekende wesens op hierdie planeet. Die ding is, as mens jou 
omring met mense wat almal dieselfde taal praat, dan het jy mos nie juis meer jou privaatheid nie! Die verskriklike ding het ook al soms 
gebeur dat ek in die middel van 'n sin soos "hierdie broek gaan my beslis nie pas nie want ek is waaragtig al weer te vet", begroet word 
deur 'n Afrikaanse tannie met 'n stralende gesig wat my net wil laat weet hoe wonderlik dit vir haar is om die taal in die vreemde te hoor.

Elke kode kan kraak. Daar is nie so 'n ding soos 'n absoluut veilige sekerheidstaal nie. Ek eksperimenteer op die oomblik met die skep van 
so iets, maar dit is 'n geheim. Vra my asseblief nie daaroor uit nie!

Ek was al by tye taamlik knorrig met my vriend as hy byvoorbeeld politiek wil praat (hy klink soms soos 'n redelik goed geskoolde Marxis en 
ek deel nie graag hierdie gegewe met die res van die bus nie) en vergeet dat hy veronderstel is om dit in Afrikaans te doen.

Bly ek op die hoogte van sake? Tragies genoeg, ja. Mens kan nie anders as om op die hoogte te bly nie. Jy word gebombardeer met e-posse, en 
nou is daar nog LitNet ook in my lewe. Gatverdarrie ba! Ek weet alles wat aangaan. Niks is vir my geheim nie.

Ek verfoei byvoorbeeld hierdie nuwe gewoonte van die Afrikaner-intelligentsia in Suid-Afrika om Engelse woorde in die middel van Afrikaanse 
sinne in te dons. Dis mos alles deesdae great daar by julle, dit maak julle so happy dat ons nou so cool kan wees. Hierdie nuwe soort 
intellektueel sal nie dood gesien word in 'n spoggerige uitrusting as hy eerder in 'n snazzy outfit gesien kan word nie. Maar hy praat 
Afrikaans, hel ja, hy dring daarop aan, en hy koop uit suiwer pligsgevoel nog Afrikaanse CD's ook. (Arme donder.)

Nie alleen sou hierdie vieslike gewoonte van vandag my sekuriteitstaal geheel en al nutteloos maak nie, dit maak ook die hele taalstryd-
konsep nog belagliker as wat dit reeds is. U sien, dit is nie die ANC wat Afrikaans vandag in gevaar stel nie. Dis hierdie drel. Hierdie 
nuwe Engelsek*kprater in die middel van sy Afrikaanse sinne.

Dis een ding as mens 'n woord waaragtig vergeet (soos wel al soms met my gebeur het). Ek het egter die verskoning dat ek al dertien jaar 
lank in 'n Engelssprekende land woon sonder 'n Afrikaanse waterrekening in sig. Ek het niks Afrikaanse boekies nie. (Het hulle nie nodig 
nie. Ek kan hulle skryf as ek wil, maar ek wil nie. Hahaha.) En ek maak nie excuses as ek verskonings kan maak nie.

Wanneer mense my vra of ek Afrikaans mis, is die eerlike antwoord nee, ek mis dit werklik nie. Ek het jare lank individue uit Suid-Afrika 
gemis, onder wie ook Afrikaanssprekendes was; op die ou end was dit egter soos vir Sinead O'Connor ... ek soek nie wat ek nie het nie.

Ek mis vir Charles Fryer. Mis ek egter hierdie abstrakte hartebees, hierdie logge konsep, "die taal" ... as ek hierop probeer ja antwoord, 
sal ek moet lieg. Om die waarheid te s, ek is van harte dankbaar om van die ding ontslae te wees. U kan ook emigreer, meneer, mevrou: u 
kan ook van die gedierte ontslae raak. Hang die hartebees aan 'n tak, word lig, word vry, en vlieg! Laat hom biltong word daar. Laat ou Dan 
Roodt en Chris Louw en hulle makkers (is dit nie 'n mooi woord hierdie nie, makkers ... ouens wat duidelik niks goeds beplan nie!) maar 
verder sien wat hulle met die gedroogde bees wil maak. Die taal is hulle s'n. Ek het die ding nie in my lewe nodig nie. En hierdie is nou 
DISlojale verset.

Ja, mens kan vry word van die las. Vermy net sekere webwerwe soos die pes. Maak NIE die fout om LitNet oop te maak nie. Dis soos Pandora se 
kissie. Om werklik vry te wees: weier om te kliek. Voorwaar, voorwaar ek sweer u dit voor. Kliek net nie op die Romeine nie, want hulle 
keel is 'n oop grafkelder. Ek is ook lief vir Latyn. Dit beteken nie dat mens met mediums moet sukkel om met spoke te praat nie. Annesu de 
Vos het op negentien in Suid-Afrika gedebuteer met die digbundel Die groen perske en ander verse. Sy werk al dertien jaar in Kanada.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7327.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

